Pioneer Column
Die Pioneer Column was ‘n half-militêre groep mans wat in 1890 Masjonaland in die huidige Zimbabwe beset het.
Vergunnings
[wysig | wysig bron]C.J. Rhodes se agente Charles Rudd, F.R. Thompson en R. Maguire het op 30 November 1888 die alleenreg op die ontginnning van minerale in Masjonaland van Lobengula, hoof van die Matabele ontvang. Hierdie ooreenkoms staan bekend as die Rudd-konsessie. Rhodes as imperialis strewe daarna om die Britse invloedsfeer in Suider-Afrika verder uit te brei. Na die verkryging van die Rudd-konsessie ken die Britse regering aan hom en Alfred Beit op 29 Oktober 1889 ‘n oktrooi toe om die British South Africa Company (BSA Co.) te stig wat aan hulle die alleenreg verleen om alle gebiede noord van die Limpoporivier te koloniseer, bestuur en ontwikkkel. Die verkryging van die mynregte was dus eintlik bloot ‘n stap in die kolonisasie van die streek.
Beplanning
[wysig | wysig bron]Om dit te doen gebruik die BSA Co. Betsjoeanaland as afspringplek. ‘n Mag van 200 burgerlikes (eintlik huursoldate) word in Suid-Afrika gewerf. Onder die manne is selfs 3 dokters en ‘n predikant. By aankoms in Masjonaland sou elke man vry wees van verdere verpligtinge teenoor die maatskappy, elkeen sou ‘n plaas kry en ‘n aantal lprospekteerregte. So sou hulle dan die eerste koloniste wees in die beoogde nuwe kolonie. Die bevel oor die groep is deur Rhodes toegeken aan die 23-jarige oud-polisieman maj. Frank Johnson. Hy, kapt. Maurice Heany en luit. Henry Borrow moes sorg vir alle benodigdhede, voorrade en toerusting en die pad deur die digte bosse laat oopkap tot by Mount Hampden (die latere Salisbury en nog latere Harare). Omdat die Britse regering bang was vir die moontlike vyandiggesindheid van die Matabele teenoor so ‘n kolonne wat deur hulle gebied trek sowel as vrees vir die houding van die ZAR, die Portugese in Mosambiek en die Duitsers in Duits-Suidwes-Afrika en Duits-Oos-Afrika het die owerheid in Londen beveel dat die groep vergesel word deur ‘n 500 lede van die B.S.A. Co. se polisiemag. Luit.-kol. E.G. Pennefather van die polisie sou die oorkoepelende bevelvoerder van die Pioneer Corps en die polisiemag vergesel van waens, perde en beeste wees. Die saamgestelde groep is toe bekend as die Pioneer Column. Pennefather is bygestaan deur Leander Starr Jameson en A.R. Colquhoun.
Roete
[wysig | wysig bron]Die bekende grootwildjagter Frederick Courtney Selous het as gids opgetree en al dadelik besluit dat die gebruiklike pad na Masjonaland nie gevolg moet word nie om te verhoed dat die verbytrekkende groep die agterdog van die Matabele sou opwek. Selous besluit op ‘n baie meer suidelike en daarna oostelike roete.
Maloutsie in Betsjoeanaland was die bymekaarkomplek en die groep vertrek van daar op 28 Mei 1890. Via Fort Tuli steek hulle die Shasherivier oor. Daarna volg ‘n stuk moeilike en redelik onbekende gebied. Ook was dit nogal naby aan die gebied van die Matablele. Toe hulle vroeg in Augustus oor die Providential Pass is en op hoër gebied, is die probleme verby. Op 17 Augustus stig hulle Fort Victoria, later bekend as Masvingo. Hier laat hulle ‘n aantal polisiemanne agter om die nuwe roete te beskerm. ‘n Veertien dae later, op 4 September, word Fort Chalmers (nou Chivhu) gestig en ook deur ‘n aantal konstables beman. Verder noord is die gebied by Mount Hampden uitgesoek as die mees geskikte plek vir die hoofstad van die nuwe kolonie. Tydens ‘n parade op 13 September by Fort Salisbury is die nuwe kolonie Rhodesië verklaar. Toe was dit nog slegs Masjonaland. Nadat die mag van die Matabele vernietig is, het die kolonie die grense van die huidige Zimbabwe gekry.
Die Pioneer Column het 650 km in 3 maande afgelê en letterlik baanbrekerswerk verrig.
Ontbinding
[wysig | wysig bron]Op 1 Oktober is die Pioneer Column ontbind. Sy taak was afgehandel en die meeste lede was die eerste setlaars in die nuwe kolonie. Die lede het hul plase van 3000 akker ontvang, begin boer en op hul 15 kleims begin prospekteer.
Persone
[wysig | wysig bron]Ander bekende persone by die reis betrokke was
- John Henry Borrow (kapt.) (*Cornwall, 17 Maart 1865), soldaat, boer in Suid-Rhodesië. Die voorstad Borrowdale van Harare dra sy naam.
- Archibald Ross Colquhoun (*op see naby Suid-Afrika, Maart 1848 - †Londen, 18 Maart 1914), ontdekkingsreisiger, Britse koloniale amptenaar, eerste administrateur van Suid-Rhodesië
- Robert Thorne Coryndon (sir) (*Queenstown, 2 April 1870 - †Nairobi, 10 Februarie 1925), soldaat, bestuurder van ‘n poskoets op die roete Kimberley-Salisbury, grootwildjagter, sekretaris van Rhodes, koloniale besuurder in Noord-Rhodesië, Swaziland, Basoetoland, Uganda, Kenia, Zanzibar
- Maurice Heany (kaptein), (*VSA - †1927)
- Frank Johnson (sir), (*Downham, Norfolk, 21 Junie 1866 - †Douglas, Eiland Man, 6 September 1943), Britse soldaat
- James Rochfort Maguire (*Limerick, Ierland, 4 Oktober 1855 - †Londen 18 April 1925), medewerker en vertroulike verteenwoordiger van C.J. Rhodes
- Edward Graham Pennefather (*Callan, Kilkenny, Ierland, 1850 - †Himeville, Natal, 1928), polisiebevelvoerder van die Pioneer Column
- Francis Robert (Matabele) Thompson (*op see naby Port Elizabeth, 1857 - †Barkly-Wes (distrik), 3 Mei 1927), medewerker van C.J. Rhodes, Suid-Afrikaanse politikus